
Al wat ons het is die ‘nou’.
Gebed is ‘n praktiese manier waarop Christene bewustheid in hul daaglikse lewe kan toepas.
“Bid gedurig”. (1 Tessalonisense 5:17)
Bewustheid (mindfulness) is tans ‘n gonswoord en populêre tegniek veral binne die raamwerk van die sielkunde veld. Navorsing dui op ‘n direkte verband tussen mindfulness en verskeie voordele wat hierdie tegniek vir emosionele gesondheid inhou. Om die ‘nou’ volkome in te drink, en dit te omarm met ‘n soort nuuskierigheid, is waarlik ‘n kuns, veral te midde van die gejaagdheid wat mens so dikwels verstrik.
WAT BETEKEN MINDFULNESS?
Mindfulness is ‘n bewustelike keuse om volledig en heelhartig (met jou gedagtes en emosies) in die huidige oomblik (nóú) te wees. Baie maklik raak ‘n mens verstrengel in stressors of die ‘what if’s’ van môre (die toekoms), of tob jy oor gister (die verlede) – en dit kom steel die huidige oomblik by jou. Die toekoms word baiemaal geassosieer met emosies soos: onsekerheid, bekommernis, vrees, twyfel, angstigheid of ‘n oorweldigende gevoel. Waak veral ook teen ‘destination addiction’, die oortuiging en beheptheid dat geluk in die toekoms/die volgende oomblik, eerder as in die hier en nou opgesluit is. Byvoorbeeld om te glo dat ‘wanneer ek daardie 10 kilogram afgeskud het’ of ‘wanneer ek ‘n man kry’ of ‘wanneer ek daai bevordering by die werk kry’ of ‘wanneer ek ‘n mamma word’ of ‘wanneer ek daai huis of kar besit’, dán sal ek ware geluk en vrede ervaar. Spyt, teleurstelling, skuld-gevoel, hartseer of woede gaan baie keer gepaard met die verlede. Meeste mense leef nie in die huidige oomblik nie, hul wens eintlik vir die volgende oomblik of verlang terug na ‘n oomblik in die verlede.
HOE KAN EK MINDFULNESS PRATIES IN MY LEWE TOEPAS?
Daaglikste uitdagings is (1) digitale uitbranding en (2) die onvermoë om geliefdes, vriende, en familie onverdeelde aandag te gee. Laasgenoemde is maar slegs twee voorbeelde van ‘diewe’ wat die ‘nou’ by ons kom steel. Die realiteit is: die ‘nou’ is al wat jy het. Maak ‘n bewustelike besluit om daai ‘Apple watch’ af te haal of jou foon weg te sit as jy met jou kinders speel, op ‘n ‘date night’ is, of oorkant ‘n vriendin sit in ‘n koffiewinkel. Onverdeelde aandag is die grootste geskenk wat jy vir jou geliefdes kan gee en is voorwaar ‘n rare vaardigheid in ‘n samelewing gekenmerk met soveel afleidings.
Uit ‘n pastorale lens beteken mindfulness om die vermoë te hê om vrede op te soek ‘ten spyte van’ die chaos rondom jou en die onbekende wat in môre opgesluit lê. Mag jy losbreek van jou verlede en dit wat jou bitter maak. Hou op so swaar dra aan gister en begin die langpad van vergifnis tree vir tree stap.
Mindfulness is ‘n gesonde gewoonte, ‘n manier van lewe en ‘medisyne’ vir ‘n lewe gekleur deur gejaagdheid, onrus en stres. Mag jy vertrou dat God vir jou in die volgende oomblik wag, en dat jy met sekerheid sal weet dat Hy jou Herder is wat vir jou die pad vooruit stap.
UITDAGING: Binne-in die huidige oomblik is soveel skatte opgesluit, moet dit nie misloop nie. Soek die kalmte, mooi en vreugde van die ‘nou’ op. Omhels die huidige oomblik met jou hele wese.