DIE WAG DIE MOEITE WERD

Ek het heel agter gestaan toe geduld in die hemel uitgedeel was. En soveel te meer is hierdie karakter-eienskap getoets oor die laaste 8 maande.

Daar is niks so teleurstellend soos om sooo reg te voel as vrou en paartjie vir ‘n kleintjie, maar die positiewe swangerskap toets bly jou ontwyk. Ek kan seker op 3 hande tel – hoeveel swangerskap toetse negatief was, vir my ‘n absolute leeftyd gevoel. Met elke maand se afwagting vir ovulasie en om dan uiteindelik duimvas te hou vir ‘n kruisie op daai swangerskap toets was ‘n rollercoaster saam met Ollie. Ek onthou hoe ek vir my skoonma Januarie laat weet het “Not yet ma, Mienkie of Luke sit nog te lekker op Jesus se skoot”.

Met die aanloop tot swangerskap kon ek agterkom hoe die “nie swanger word” aan my identiteit begin knou. Ek onthou soveel van my drafsessies waar trane oor my wange gestort het, ek by die Here my verlange vir ‘n kleintjie bely het. Telkemale het ‘n wit skoenlapper by my verby gevlieg, as ek draf of gaan stap, by ‘n wynplaas sit – keer op keer het die Here my herinner aan sy belofte dat Hy “op sy tydlyn” tog vir my en Ollie ‘n baba sou gee. Ek is nie ‘n jaloerse mens nie, maar ek kon onthou hoe ek gesukkel het om ander vroue swanger te sien in Clicks of Nando’s. Ek het begin kop verloor en begin ‘over focus’ op mamma word. Het het sommer vining verby gescroll as ek sou sien nog ‘n dame op my facebook is swanger.

Ek onthou hoe ek enige boere rate gevolg het, boude in die lug vir ten minste ‘n halfuur. Dit het eintlik effens oorgespoel in desperaatheid. So asof ek net nie beheer kon oorgee oor hierdie ding nie, ek wou beheer hê. God het egter vir my ‘n duur les kom leer rondom warlike heelhartige vertroue, hoop, en volkome oorgee van beheer.

Toe ons Augustus 2019 die besluit neem om Luke/Mienkie se broeikassie reg te kry – het ons langpad begin, ‘n pad van onsekerheid. Waar mens moet kophou as ‘n paartjie – anders sluk die ‘baba-maak’ projek mens pens en pootjies in.

Toe ek alles om God se hande begin sit het het ek sy hand beduidend in my lewe begin raaksien. Toe ek my fokus verskuif kon ek my oë oplig na die berge.


Deur Dr Friedel

Leave a Comment