Ontmoet Minki SE ‘OUMA WOEF’

Ontmoet Minki se ‘Ouma Woef’.

Met ‘n cappuccino in die hand en ‘n vars pasta pesto slaai sit ek en my skoonma (voel soos my eie ma) in die winterson en bak. Dis September maand (2021), maar die lug is steeds koel. By ‘n koddige koffiewinkeltjie in die Paarl deel ‘ouma Ella’ haar hart oor ouma-wees. Minki is haar eerste kleinkind en dié twee is alreeds soos vinkel en koljander. Ek wou graag haar insette kry oor ouma-wees. So tussendeur die ganse se gekekkel en die hadida’s se geskreeu laat ouma Ella my in haar hartkamer in.

Vertel my van die oomblik toe jy gehoor het jy word ‘n ouma.

Ek onthou dit so goed. Ek en my man (oupa Stan) het in die bed gelê toe my seun en Friedel ons ‘video call’. Dit was in die middel van ‘hard lockdown’ in die Covid Pandemie. Naas my eie kids se geboorte was dit die wonderlikste geskenk. Ek kry sommer hoendervleis en word tranerig as ek terug dink aan daardie lewensveranderende oomblik. Ek weet eintlik nie hoe om dit in woorde om te sit nie. Dit was die wonderlikste nuus ooit. Die uitsien was groot. Ek was oortuig jy en Ollie gaan die wonderlikste ouers wees. Na ek die nuus gehoor het, het ek elke aand gebid en gevra dat Hy ons sal spaar tot ons ons kleinkind ontmoet. Die vraag het deur my kop gemaal – Wat as ons sterf voor sy kom? Nou wil ek haar sien trou en by wees as sy matriekafskeid toe gaan.

Wat is een van jou favorite oomblikke saam met Minki?

Om haar aan die slaap te sus is vir my so kosbaar. Daai ogies wat na my staar en diep in my siel inkyk. Haar klein handjies wat deur my hare vleg. Haar gesiggie wat ophelder as sy my sien is so lekker. As sy handjies klap is sy vir my te skattig.

As jy vir Minki kon los met ‘n stukkie wysheid oor ‘n gelukkige lewe wat sou dit wees?

Sy moet lief wees vir haar mede-mens. Sy moet net ‘n lekker mens wees, waarvan mense sal hou. En sy moet wandel op die weë van die Here.

Watter raad sou jy vir nuwe oumas gee?

‘Back off’, staan terug, dis nie jou baba nie. Respekteer die ouers se besluite en hoe hul dinge wil doen. En wees ‘consistent’ met roetine en dissipline. Oumas en oupas moenie hul eie kop volg nie. Gee jou tyd vir jou kleinkind. Probeer minder goed op jou ‘plate’ laai sodat jy kan tyd oopmaak in jou dagboek. Prioritiseer kwaliteit tyd met jou kleinkind.  Wees oop om baie liefde te gee en te ontvang.

Hoe het dit gevoel om die eerste keer vir Minki te ontmoet?

Dit het vir my gevoel dís nou die naaste wat mens aan die hemel kan kom. Om daai lyfie die eerste keer vas te hou…’n trots en diepe vrede het my omarm en van alle kante omsluit.

Som ‘n ouma se rol kortliks op.

‘n Ouma moet haar kleinkind bederf. ‘n Ouma en haar kleinkind moet stoutigheidtjies kan doen wat mamma en pappa nie van weet nie. Ouma moet net daar wees om liefde te gee, te ‘cuddle’ en te speel. ‘n Ouma moet net ‘n lekker mens wees. ‘n Kleinkind moet die vrymoedigheid hê om alles met haar ouma te deel. Ons moet ‘n spesiale band hê, wat uniek is net aan ons twee. ‘n Ouma se rol is om haar kleinkind gereeld te sien en moeite te doen om baie tyd alleen tyd saam met haar te spandeer. Sy moet net WEET ouma is lief vir haar. My hele menswees moet getuig van my liefde vir haar. Sy moet dit in haar hartjie kan voel.

Watter lesse het ouma-wees sovêr vir jou geleer?

Minki het my eerstens geleer om tot stilstand te kom, te sit en net die oomblik in te neem. Om rustig te raak. Tweedens het ek geleer om na mamma en pappa te luister en hul wense te respekteer. Moenie jou eie ding doen nie. Dit is vir my belangrik om te doen wat Minki se ouers sê en nie my eie kop te volg nie. Laastens het Minki my geleer wat onvoorwaardelike liefde beteken: Minki kan enige iets doen – ouma sal steeds lief bly vir haar.

Wat was die impak van ouma-wees op jou verhouding met die Here?

Ek ervaar daagliks ‘n diepe dankbaarheid. Ek kan nie genoeg vir die Here dankie-sê nie, Minki is mos maar net vir ons geleen. Dit is vir my ‘n hartsbegeerte dat sy ná aan die Here sal leef, soos haar mamma. Die energie wat sy uitstraal moet ‘n positiewe ‘aura’ wees.

Twee geheime wat niemand jou vertel het van ouma-wees.

Eerstens, onthou ek hoeveel mense vir my gesê het dat dit ‘n liefde is wat jy nooit kan beskryf nie. Maar niemand het vir my gesê jy gaan so verlang na jou kleinkind nie. Dis soos ‘n pyn wat jou hele lyf deurtrek – só verlang ek soms na daai lyfie en mensie. Ek het nooit gedink ‘n mens kan so hunker na iemand nie. Tweedens, ek het nooit verwag dat ek  so ‘n enorme vrees sou ervaar om vir die eerste keer ‘n nag na haar te kyk nie. Daai verantwoordelikheid van die mensie in jou sorg was oorweldigend.

Kyk jy anders na jou eie kind vandat hy ‘n pa geword het?

Ja verseker. Die sagtheid waarmee Ollie met Minki werk en jou as mamma ondersteun is vir my treffend. Trots vul my hele wese as ek dink ons is die ouers wat hom groot gemaak het.

Laat ouma-wees jou nadink oor jou eie ouerskap styl?

My eie ouerskap styl was destyds baie anders. Byvoorbeeld as ek dink aan al die bruikbare ‘tools’ wat nou beskikbaar is, soos kamaras en monitors in die babakamer. In ons tyd was daar nie sulke goed nie. Wiegiedood was nie so op die voorgrond nie. Ons het ons babas toegemaak met ses komberse sonder om ‘n oog te knip. Ek het nooit gedink roetine gaan so ‘n belangrike rol speel in my seun se ouerskap styl nie. Vir my was dit ook destyds belangrik. Dit is vir my opvallend dat my seun-hulle meer konserwatief is om sommer net medikasie vir Minki te gee. In ons tyd het ons maklik al die ‘doepas’ en stroopies gegee.

Is dit ‘n uitdaging om jou kinders se grense te volg.

An die begin was dit nogal vir my ‘n uitdaging. Oupa Stan is stout en wil die grense ‘push’. Maar ek het gesien watter groot aanpassing ouerskap was vir jou en Ollie en ek wou alles in my vermoë doen om dinge makliker te maak vir julle.

Watter stories wil jy hê Minki moet van weet uit jou eie lewe?

Sy moet weet dat haar ouma baie lief is vir diere en my kinders. Sy moet weet dat my sus (Amanda) my alles is. Minki moet weet dat ek haar oupa baie liefhet.

Wat is die voetspore wat jy in Minki se hart wil trap?

Ek hoop sy leer by my om ander mense te respekteer. Ek wil vir haar moduleer om nie mense te oordeel nie.

Watter kosbare familie tradisies wil jy hê moet jou kinders voortsit?

  • Somer vakansies by Hartenbos.
  • Sondae middae boerekos saam eet as ‘n familie.
  • Ek hoop sy hou van ‘n lekker braai.
  • Mag sy elke Kersfees met blink oë vier en baie geskenke kry.
  • Sy moet onthou dat ‘n soettand ‘okey’ is.

Laat ouma-wees jou dink aan jou eie oupa en ouma?

Absoluut ja. My oupa het altyd vir my en my suster die lekkerste pap gemaak. My ouma het vir my leer hekel. Daar was ‘n ander soort rustigheid en vrede wat ek ervaar het as ek by my ouma en oupa gekuier het. Ek het nooit ervaar dat my ouma rondskarrel nie.

Wat is die impak van kleinkinders op jou eie huwelik?

Dit het ons nader aan mekaar gebring omdat ons die geskenk (Minki) saam kan koester. Ons het vele geselsies oor Minki. Ek en oupa Stan deel ons bekommernisse oor die wêreld waarin sy grootword. Ons het nuwe ‘topics’ om oor te praat. Ons was nog altyd na aan mekaar, maar daar is verdieping, want ons deel hierdie kosbare blouoog engeltjie.

Leave a Comment