
Hoe groet ‘n mens jou pa?
Dis ‘n koue wintersoggend in Augustus-maand (2021). Die kaggel kners eenkant in die hoek. Gister, presies 7 maande terug is Louise gekonfronteer met haar pa se afsterwe.
Ek self is baie ná aan my ouers, en kan my nie indink hoe ‘n mens hoegenaamd aangaan met die lewe na so ‘n enorme verlies nie.
Ek onthou hoe Louise haar koffie bestel en met ‘n soort weerloosheid maar ook ‘n diepe braafheid met my oogkontak maak. Haar lewe word gekleur deur entrepreneurskap. Louise is ‘n mamma van drie seuns.
Louise begin vertel hoe sy haar pa van kindsbeen af ervaar het as die kern van har bestaan.
“As ‘n mens aan jou pa dink Friedel – dink jy aan ‘n hoeksteen. ‘n Pa is inderdaad die hoeksteen van jou bestaan, hy is die vangnet in die lewe – net altyd daar. Dus is die gedagte om een van jou ouers te verloor ‘n gedagte wat jy nie wil oproep nie”.
Louise vertel dat die onwerklikheid van sy heengaan haar soms steeds tref.
“Parykeer moet ek myself knyp om te begryp hy is rerig weg. Ek kyk na foto’s, en dit tref my: hierdie fotos + herinneringe is so bekend. Daarteenoor is die realiteit dat hy weg is so onbekend.
Sy verduidelik hoe hierdie nuewe realiteit haar uitdaag, want waarheen gaan sy met die realiteit?Ek voel dankbaar dat ek hom as my pa gehad het, die gewig van wie hy was is so omvattend. Met ‘n tong in die kies vertel sy dat haar pa ‘n man van min woorde was:
“Hy sou kaartjies by CNA gaan koop wat klaar ingeskryf is”.
Karaktertrekke van haar pa onthou sy goed: onselfsugtigheid, onvoorwaardelike liefde en dienende wese.
As ek dink aan wie hy was…is daai persoon steeds vir my ‘n veilige plek om heen te gaan, en ek verkies soms om daar te vertoef.